Wenke Vir Ouers Van Skoolbeginnertjies

My kind gaan skool toe... wat nou?

Die Vorige Jaar

• Maak ‘n afspraak en besoek die skoolhoof voor die skooljaar begin.
• Voltooi die toelatingsvorm en stel vas wat die skoolgelde is en watter skryfbehoeftes aangekoop moet word.
• Woon die opedag en kuierdag by.

Die Eerste Skooldag

• Besorg u kind betyds en rustig by die skool. Reël by u werk om ‘n tydjie vry te hê.
• Meld saam met u kind aan by die klas wat gereedgemaak is en haal sy naamkaartjie af en speld dit vir hom vas.
• Vergesel u kind na die klaskamer. Die onderwyseres gee gewoonlik nie om wanneer ma ‘n rukkie talm nie. Loop sodra hy/sy tevrede is.
• Bêre jou trane tot by die motor. ‘n Mens kan nie verwag dat u kind droë oë moet hê wanneer u self tranerig is nie.
• Die skool is nie so erg soos dit lyk nie. Daar word met liefde en sorg voorbereidings getref vir die ontvangs van u kind.

Kospakkie

• ‘n Goed gebalanseerde ontbyt is noodsaaklik maar kinders wil nie altyd so vroeg in die oggend ‘n groot ontbyt eet nie. Daarom is dit noodsaaklik dat die kind ‘n kospakkie moet skool toe neem. ‘n Kind van 6 tot 8 jaar kan nie die hele oggend op ‘n leë maag aktief besig wees en konsentreer nie.
• Sorg vir proteïene. Wanneer ‘n kind val en die nerwe waai, is dit proteïene wat genesing help bewerkstellig. Verwerkte vleis, fyn gekapte hardgekookte eier of kaas op broodjies, is ‘n oplossing. Onthou : Hawermout bevat ook proteïene!
• Sonder genoeg koolhidrate en vitamiene kan jou kind nie saam met ander speel nie, want hy sal nie genoeg energie hê nie!
• Graanprodukte, vars vrugte, natuurlike vrugtesappe en botter kan help om die kind gesond te hou.
• Vermy ‘n kospakkie wat bestaan uit sjokolade, lekkers en koekies. Sonder een dag van die week af en bederf hom dan met ‘n ekstra lekkertjie of koekie, of gee ‘n geldjie om iets by Kekkel en Kloek te koop.

Persoonlike Higiëne

• Voorsien jou kind daagliks van ‘n skoon sakdoek of sneesdoekies.
• Knip jou kind se naels gereeld en sorg dat dit skoon is.
• Kyk of jou kind se gesig elke oggend skoon is en of sy hare skoon en netjies gekam is. Moenie ‘n geleentheid skep waar die kind se selfbeeld ‘n knou kan kry nie.
• Sorg dat jou kind die toilet selfstandig kan gebruik en sy knope of ritssluiter self kan vasmaak.